Die aktrise Jana Cilliers is vandag 76.
Sy het in 2024 op die KKNK die Kunste Onbeperk-prys vir vertolking ontvang. Toe het haar tweepersoonstuk Veelhoek gedebuteer. Dis ook die titel van haar oorlede neef, die digter Barnard Gilliland, se enigste digbundel.
Die dramaturg en regisseur Mbongeni Ngema sou vandag 71 word. Hy is op 27 Desember 2023 in ‘n motorongeluk naby Lusikisiki in die Oos-Kaap dood.
Hy is bekend om musiekspele soos Sarafina! en Woza Albert! en treffer soos "Stimela SaseZola".
Hy is in Verulam naby Durban gebore.
Die digter Danie Marais is vandag 55.
Hy was verlede jaar die eerste ontvanger van die Breyten Breytenbach-prys vir poësie vir sy bundel Ek en jy bestaan nie. Die musiekproduksie Ek is nie Danie, wat op sy vier digbundels gegrond is, het ses Fiësta-pryse gewen.
Die aktrise Sybel Coetzee is vandag 72. Sy is in Barberton, Mpumalanga (destyds Transvaal), gebore en het in Linden, Johannesburg, grootgeword en drama aan die Universiteit Stellenbosch (US) gestudeer. Sy en haar man, Louis Möller, het 2 seuns, Marius en Heinrich, en 1 kleinkind.
Johnny Davids, radio-omroeper, TV-aanbieder en eertydse wenner van die kykNET-sangkompetisie Zing!, sou vandag 49 word.
Hy was besig om aan die VIA-reeks Landbouweekliks te verfilm toe hy op 16 April vanjaar aan ’n hartaanval dood is.
Die aktrise Nazli George verjaar vandag.
Sy is in die Kaap gebore en is die skrywer van die solostuk Rootz. Sy het onder meer verskyn in Meeulanders, Onder engele, Plek van die vleisvreters, Swartwater en 7de Laan. Verhoogwerk sluit in Hello and Goodbye en Dying Breed.
Die skrywer en digter D.F. Malherbe is op 28 Mei 1881 op die plaas Kleinbosch in Daljosafat in die Paarl-distrik gebore. Daniël Francois Malherbe is die skrywer van romans soos Hans-die-skipper en Die meulenaar en as digter het hy met verskillende versvorms geëksperimenteer.
Die uitsaai-veteraan Marida Swanepoel is vandag 80. Sy is in 2024 met ’n ATKV-prestige-eerbewys vereer as ’n kurator van die Afrikaanse kultuur vir haar uitgebreide bydrae tot die televisiebedryf, onder meer as ’n stigterslid van kykNET, as dramaskrywer en vervaardiger en mentor.
Die visuele kunstenaar Ferrie Binge-Coetzee sou vandag 100 word.
Haar oupagrootjie was ds. Ferdinand Brecher, die eerste sendeling van die Rynse Kerk in Steinkopft in die Noord-Kaap.
Ferrie Francina Brecher is in Keetmanshoop in Namibië gebore. Sy is in 2010 in Kaapstad oorlede.
Cecile Cilliers, rubriekskrywer en resensent, sou vandag 93 word.
Sy is in 2018 op 85 dood. In dieselfde jaar, toe sy nog 84 was, het haar debuutkortverhaalbundel, Die ou vrou en die priester, by Human & Rousseau verskyn. Sy het gewonder of die bundel dalk ’n soort swanesang is.
Die skrywer C.S. Badenhorst, bekend om boeke soos Wat geld nie kan koop nie, sou vandag 100 word. Christina Susanna van Zyl is op ‘n plaas in die Marico-distrik gebore en het in 1943 aan die Hoërskool Zeerust gematrikuleer. Sy is op 9 September 2004 in Potchefstroom oorlede.
Meer as een goeie vonds in Parys, Vrystaat. Groen koring is die roman waarop Elmo de Witt se fliek Debbie gegrond is en Psalms van David is ‘n digbundel deur D.P.M. Botes.
Die operasanger Evelyn Dalberg sou vandag 87 word.
Sy is in November 2025 in New Hanover, KwaZulu-Natal, oorlede.
Dalberg is op 23 Mei 1939 in Leipzig, Duitsland, gebore. Sy het ’n jonger suster, Dagmar, gehad en haar ouers was die operasangers Fred Dalberg en Ellen Winter.
Die akteur Hennie Smit is vandag 83.
Hy is in Malmesbury in die Swartland gebore en het aan die Hoër Jongenskool in die Paarl gematrikuleer waar hy die verhoog leer ken het.
Daar was verskynings in reekse soos Nommer asseblief, Mattewis en Meraai en Egoli: Plek van goud.
Die skrywer Toek Blignaut sou vandag 104 word. Marthina Sophia Venter is op ‘n plaas in die distrik Bloemfontein gebore en het hoofsaaklik ontspanningsliteratuur geskryf. Sy het in Lindley in die Vrystaat gematrikuleer. Sy is op 5 Januarie 2007 oorlede.
Die akteur Hans Strydom is vandag 79.
Hy het ’n BJuris-graad aan die destydse Potchefstroom Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys verwerf.
Strydom, wat in Durban gebore is, het sy loopbaan begin as ’n aanklaer en landdros by die destydse departement van justisie.
Die joernalis en rubriekskrywer Madeleine van Biljon is op 14 Mei 1928 in Lichtenburg gebore.
Sy het haar loopbaan by die dagblad Die Vaderland begin. Sy was ‘n groot leser en haar ‘n bundel opstelle Geliefde leesgoed het in 1996 die lig gesien. Sy is op 23 Februarie 2010 dood.